Is dans ‘n sonde of nie?

Vir baie jare was daar verskeie sieninge in verskeie kerkorganisasies of dans nou eintlik ‘n sonde is of nie. Die kerke het besef dat hulle lidmate hierdie siening dat dans ‘n sonde is as belaglik beskou en van die kerke het toe hulle benadering verander na dat dans nie ‘n sonde is nie maar dat dans kan lei tot sonde.

My eie opinie is dat dit nog steeds verregaande was dat die kerke dans moes uitsonder as iets wat tot sonde kan lei. Daar is tog tonne ander aksies wat tot sogenaamde sondes kan lei. Baie lidmate het waarskynlik nie eers ‘n verskoning (soos dans) nodig om hierdie sogenaamde sondes te pleeg nie!

Maar wat is hierdie sogenaamde sonde waarna die kerke sou verwys? Dit moet ‘n baie groot sonde wees want niemand wou my nog ooit ‘n reguit antwoord gee nie. Is dit moontlik dat hierdie sonde waarna verwys word dalk seks kan wees? Ek hoop nie so nie want as ek so na al die kinders kyk in die kerke en skole dan moet daar darem baie sondaars (dansers) wees!

Wat was die sieninge van hierdie sogenaamde dans as sonde en hoe het die lidmate van die onderskeie drie susterskerke daarop gereageer? Hieronder is maar net my eie ervaringe, waarnemings en opinies:

1. Gereformeerde Kerk of beter bekend as die Dopper Kerk:

Lidmate mag nie gedans het nie, dit was ‘n sonde en klaar. Wat vir my baie snaaks was by troues en ander funksies is dat dit juis die doppers was wat die beste gedans het en dit nogal geniet het. Dalk wou hulle ook uitvind wat hierdie verskriklike sonde is in dans? Nogal oulik.

2. NG Kerk:

Lidmate mag dans maar hulle mag dit net nie geniet nie. Nogal snaaks om hulle dop te hou. Hulle dans so met ‘n stywe nek en met geen gesigsuitdrukking nie en as hulle nog tydens die dans iets praat, dan word die lippe eers so styf getrek en dan kom die woorde uit sodat die lippe skaars beweeg, natuurlik sodat ouderling tog net nie moet dink hulle geniet nou die dans nie! Dan drink hulle darem ook ‘n drankie by die dans. Maar natuurlik moet die drankie in ‘n klein glasie wees, eers word die lippe weer styf getrek en word daar net sulke klein slukkies van die drank geneem want wat sal die mense sê as dit sou lyk of hulle die drankie geniet en nog veel erger mag niemand, veral nie ouderling, dink hulle is drinkers nie. Die skynheilige bliksems!

3. Hervormde Kerk:

Wat kan ‘n mens sê? Hier word dit geniet voor die dans, tydens die dans en sommer ook na die dans. Geen pretensies nie en moenie die predikante onderskat nie, van hulle dans al te graag. Almal geniet die dans maar nog steeds word ordentlikheid behou! Ek kan ook nie agterkom of die Hervormers in hierdie groot sondes verval het net omdat hulle die lewe geniet nie!

Hierdie is maar net my eie ervaringe en opinies.