Sinode Vrystaat - 28 November 2011

28 November 2011

Die Sinode van NG Kerk in die Vrystaat
Posbus 399
Bloemfontein
9300

Geagte menere

HUIS ONZE RUST, SENTRUM VIR BEJAARDES, STEYNSRUS

['n Afskrif van hierdie brief is bekom vanaf Ds Rademeyer wie ek daarvoor bedank]
[My kommentaar is in rooi]

Hierby aangeheg afskrifte van my skrywes gedateer 10 Augustus 2011 en 21 September 2011 in verband met bogenoemde sentrum wat selfverduidelikend is. [Ek het nie afskrifte van die aanhangsels gekry nie en kan nie daarop kommentaar lewer nie]

'n Ernstige beroep word op die Sinode gedoen om dringend in te gryp by die NG Kerk en Huis Onze Rust in Steynsrus. Die Raad wat deur die NG Kerk aangestel is om om te sien na Huis Onze Rust, is besig om talle aspekte van die Wet op Oumense te verbreek en om die Sentrum in die algemeen te wanbestuur. Hierdie aksies van die Raad kan tot gevolg hê dat die NG Kerk en Huis Onze Rust se naam deur die modder gesleep word en die gevolge vir Huis Onze Rust sal onherroeplik van aard wees. Dit is hierdie gevolge wat ek probeer verhoed, maar as hierdie Raad gaan volhard in hulle eie hardkoppige verknogdheid en wil wag om te kyk of die spreukwoordelike bom gaan bars, dan moet die prys betaal word. [Het die Sinode toe ingegryp en iets aan die saak gedoen? Ek twyfel, saak is seker ook toegesmeer. Dat daar nie aan sekere wetgewing voldoen word nie is 'n feit, dit is net nie seker of dit doelbewus of uit onkunde gedoen word nie, maar dit is die plig van die bestuurder om die Raad bewus te maak van sodanige wetgewing, mits daar natuurlik 'n bekame bestuurder is]

Ek het 'n sterk vermoede dat baie van die Raad se "ongeruimdhede" bloot uit onkunde plaasvind en ongelukkig sit die Raad met ewe onkundige personeel in die kantoor van die Sentrum. Die Sentrum is deur 'n tydperk van agt maande met 'n bestuurderes wat totaal onbekaam was en totale chaos in die kantoor gelaat het. Uit die bloute en sonder om enige ander kanditate te oorweeg, stel hierdie Raad 'n bestuurderes aan wat net so onervare is soos die vorige bestuurderes. Na wat verneem word het hierdie nuwe bestuurderes geen kantoorondervinding nie wat nog te sê van bestuurservaring. Daar word nou verwag dat sy binne drie maande moet alles leer van 'n kantoor en van bestuur dit terwyl dit vir 'n bestuurder tussen 15 en 25 jaar neem om bekaam te raak vir so posisie. Hierdie aanstelling is dus totaal belaglik en onverantwoordelik en baie duidelik net in die selfsugtige belang van sekere Raadslede. In die Raad se besluitnemings kom dit voor of die tyd vir hierdie Raad vir die afgelope 50 jaar stil gestaan het en daar geensins tred gehou is met veranderings in die wêreld nie. [Oor die kundigheid van ander mense lewer ek nie kommentaar nie. Kundigheid was egter nog altyd 'n bepalende faktor of 'n instansie suksesvol is of nie]

Hierdie nuwe bestuurderes was vir sowat 'n jaar werksaam in die kombuis van hierdie Sentrum. In hierdie jaar het sy sekerlik haar werk pligsgetrou gedoen, maar sy het met geen nuwe idees na vore gekom of enige verbeteringe in die kombuis se werksverrigtinge te weeg gebring nie. Sy het dus reeds 'n kans gehad om haarself as bestuurderes te bewys maar daarvan het niks gekom nie, hoekom sal sy dit nou skielik in die kantoor reg kry?

Met die aanstelling van hierdie nuwe bestuurderes destyds in die kombuis van hierdie sentrum, het die wenkbroue kwaai gelig omrede haar pa op daardie stadium die voorsitter  van die Raad was en haar aanstelling was dus sterk onder verdenking, veral omrede haar salaris ook nog heelwat hoër was as haar voorgangers. [Ek glo nie hierdie persoon was ooit aangestel nie maar dit kon natuurlik die bedoeling wees dat sy later aangestel sou word. Ek weet ook nie of haar pa wel die voorsitter was tydens die aanstelling nie, maar indien dit wel so sou wees moet daar ook nie uit die oog verloor word dat die destydse bestuurderes ook familie was nie] Dit laat mens wonder! Dit laat mens nog verder wonder hoekom hierdie spesifieke Raad in sy geheel asook die bestuurderes van bykans 20 jaar, die tweede helfte van 2010 skielik en onder verdenklike omstandighede bedank het. Nou met die aanstelling as bestuurderes is dit bekend dat sy en die huidige voorsitter huisvriende is en die vermoede bestaan dat hulle ook aangetroude familie is. Dit is dus duidelik dat die Raad aanstellings maak gegrond op gunswerwing en nie op meriete nie. Indien dit die Raad se eie sentrum en hulle eie geld was, sou hierdie tipe "onder die tafel" aanstellings nie saak gemaak het nie. Nou is die NG Kerk, die inwoners en die Staat se geld betrokke by hierdie sentrum en kan sulke onverantwoordelike aanstellings bloot beskou word as wanbestuur en skep dit 'n ideale teëlaarde vir korrupsie en bedrog. Dan het die Raad nog die vermetelheid om die inwoners en die NG Gemeente te bedrieg en te belieg oor die aanstelling van die bestuurderes en kan daar net gewonder word oor die Raad se verskuilde agendas. Ek wonder net wanneer hierdie Raad tot die besef sal kom dat hulle funksie nie is om na hulle eie en na hulle vriende en ook nie na die NG Kerk se behoeftes om te sien nie, maar wel na die inwoners van die Sentrum soos dit tog so duidelik deur die Wet uitgespel word.

Hierdie Raad verstaan waarskynlik nie die beginsel van kantoorpraktyk en besigheidsbestuur nie. Die kantoor is immers die hartklop van die Sentrum en as daar nie ervare leiding en bestuur is nie kan daar nie van die personeel op die vloer verwag word om 100% te funksioneer nie. Met 'n onervare bestuurder kan daar geen leiding wees nie en sal die Sentrum nie effektief opereer nie en sal dit die personeel wat toegewyd is net frustreer en weereens is dit die inwoners wat daaronder sal lei. Kan hierdie Raad nie hierdie eenvoudige beginsel verstaan nie en kan hulle nie uit vorige mislukte aanstellings iets leer nie? [In die verlede toe geld relatief volop was, kon 'n instansie soos HOR baie maklik deur enige persoon, selfs deur iemand met beperkte kennis, bestuur word. Noudat geld skaars is wys dit duidelik wanneer iemand ervare genoeg is om 'n instansie te bestuur al dan nie. Om in hierdie tye 'n swak en onervare bestuurder aan te stel is nie net onverantwoordelik nie maar waarskynlik fataal vir die voortbestaan van daardie instansie. Om 'n instansie sonder enige bestuurder te laat funksioneer, moet sekerlik in die kategorie van selfmoord beskou word]

Indien daar na die laaste paar aanstellings in die kantoor van hierdie Sentrum gekyk word, dan word besef dat die Raad nie bevoeg is om aanstellings te maak of om enigsins betrokke te wees by die bestuur van die Sentrum nie. Eers word 'n sekretaresse aangestel wat geensins bevoeg was om die werk te doen nie. Kort voor haar aanstelling was sy by 'n plaaslike meubelwinkel afgedank omdat sy nie die werk kon doen nie, sy was minder as 2 maande in diens van die meubelwinkel. Die gevolg was dat sy geensins 'n aanwins was vir die Sentrum nie en dat sy uiteindelik weg is by die Sentrum onder verdenklike omstandighede. Hoe is dit moontlik dat die Raad op haar besluit het as die geskikte kandidaad terwyl daar ander en beter aansoekers was vir die pos? Die rede vir haar aanstelling destyds word aangevoer dat sy van kleintyd bekend was aan die Raadslede???! Die gevolg van die aanstelling was dus 'n groot gemors! Het die Raad 'n les hieruit geleer? NEE! [Ek weet niks van hierdie persoon se geskiedenis nie]

Toe word 'n nuwe bestuurderes aangestel sonder om te adverteer en sonder om enigsins vas te stel of sy die werk kan doen al dan nie. Weet hierdie Raad dan nie hoe om 'n CV te evalueer nie en weet hulle nie hoe om 'n onderhoud te voer met 'n kandidaad nie? Dit het na haar aanstelling aan die lig gekom dat hierdie persoon nog nooit voorheen in 'n kantoor gewerk het nie. Die gevolg van hierdie aanstelling was katastrofies en die moontlikheid van bedrog is nie uitgesluit nie. Weereens het die Raad 'n gemors gemaak van 'n belangrike aanstelling. Het die Raad darem NOU 'n les geleer? NEE!!!!

Die feit dat hierdie twee aanstellings die Sentrum der duisende rande aan skade berokken het en die feit dat die administrasie van die kantoor in 'n totale gemors is, skrik hierdie Raad glad nie af  om weereens 'n swak aanstelling te maak nie. Weereens is 'n betuurderes aangestel sonder om te adverteer en sonder om in ag te neem dat sy geen kantoorondervinding het nie. Wat gee die Raad om of hierdie aanstelling ook katastrofies vir die Sentrum gaan wees en of die inwoners en die res van die personeel weereens daaronder gaan lei? Die antwoord is duidelik, hierdie Raad gee nie 'n bloue duit om vir die Sentrum nie, al wat belangrik is dat hulle familie en vriende gelukkig moet wees dat een van hulle eie mense aangestel is en met 'n werk gehelp is. Dit laat hierdie Raad seker belangrik voel en dit laat hulle seker goed lyk in die oë van hulle familie en vriende en ander gemeentelede van die NG Kerk. SIEK!!!! [Hieroor sal ek my nie uitlaat nie. Ek reken die geskiedenis gee al die antwoorde oor aanstellings]

Dit is oor hierdie tipe van wanpraktyke waarteen President Zuma so sterk uitvaar en ten alle koste wil uitroei. Hierdie tendens van swak aanstellings van familie en vriende in bestuursposisies skep 'n omgewing vir bedrog en swak dienslewering en kos die Staat miljoene en dit is wat die President wil verhoed. 'n Goeie voorbeeld hiervan is die munisipaliteite wat so gereeld in die nuus is. Die Raad is besig om hierdie Sentrum teen 'n vinnige tempo in dieselfde kategorie te plaas. [Werklik? Ek hoop nie so nie]

Om nou die aanstelling van die bestuurderes te regverdig deur skielik 'n paar onderhoude te voer met ander kandidate en dan tog te "besluit" dat die huidige bestuurderes die beste kandidaat is, sal geensins geloofwaardig wees nie en sal net 'n verdere bewys wees tot welke mate hierdie Raad instaat is om agteraf te wees en hulle eie selfsug te verdoesel. Die manspersoon wat tans tydelik aangestel is om die Sentrum in orde te kry kan ook nie oorweeg word vir 'n permanente aanstelling nie. Hierdie persoon is reeds verby die aftree ouderdom en die vemoede bestaan dat hierdie persoon ook nie oor die nodige kennis beskik om die Sentrum se voortbestaan te verseker nie. Deur hierdie tipe familie-aanstellings weerhou die Raad dat kundigheid en ervaring na die Sentrum gebring word. Die algemene beginsel is om die beste en mees kundigste aanstelling te maak binne die raamwerk van die salaris wat betaal word. Aangesien die Raad nie die geld persoonlik voorsien vir die salaris nie, kom hierdie familie-aanstelling neer op 'n erge graad van wanbestuur en kan waarskynlik beskou word as 'n kriminele oortreding. [Aanstelling van familie en die saamwerk van familie is nie altyd 'wanbestuur' nie en daar is ook nie wetgewing wat dit verbied nie. Inteendeel in groter instansies is dit algemeen dat familielede saam werk. Dit is net wanneer die instansie skade lei deur ongeoorloofde aanstelling van familielede dat dit 'n sonde word]

Hierdie euwels moet summier wortel en tak uitgeroei word. Die feit dat die NG Kerk hierby betrokke is maak die sake natuurlik soveel erger en skep wantroue onder die gemeentes se lede. Dit kan natuurlik ook lei tot die verlies van gemeentelede soos die Algemene Sinode tereg oor bekommerd is. As ek die artikel in die Rapport reg onthou dan verloor die NG Kerk sowat 10 000 lede per jaar. Dit is skrikwekkend en dus te meer rede vir die Sinodes om op te tree teen korrupte Gemeentes en Rade. [Ek weet nie van hierdie berig nie maar ek het wel onlangs 'n berig gelees wat 'n syfer van 20 000 aangee]

Huis Onze Rust het dringend iemand nodig om nuwe idees en nuwe stelsels na die sentrum te bring. [Nuwe idees en stelsels sal altyd goed wees vir vooruitgang mits dit natuurlik gekweek is uit 'n wye ervaringsveld] Die huidige stelsels, indien dit enigsins as stelsels beskou kan word, is so verouderd en so oneffektief dat dit voorkom of dit ontwikkel was lank voor Noag se Ark. [Natuurlik net 'n grap] Dit is nogal waarnemings wat deur van die inwoners gemaak is. Sonder enige twyfel het die Sentrum vir die laaste 20 jaar gestagneer. Met die aanstelling van die onervare bestuurderes is hierdie Sentrum verdoem tot 'n verdere 20 jaar se stagnasie. In die snelle tempo van veranderinge in die land en in die wêreld, kan hierdie Sentrum, selfs met meer bevondsing, nie langer voortbestaan nie. Kan die Raad dan nie besef dat hulle die Sentrum en sy inwoners en die personeel ontneem van die voortbestaan en vooruitgang nie of is die Raad so vasgevang in hulle eie stagnering dat hulle nou te bang is vir veranderings? [Iemand moet seker eers weet iets bestaan voordat daar na daardie iets gestreef kan word] Ek glo nie die Raad  besef dat die inwoners bewus is van al die ongerymdhede wat deur die Raad gepleeg word nie, die inwoners weet net nie wat hulle daaromtrent kan doen nie. Dit is waarskynlik nou tyd dat die inwoners en personeel van die Sentrum, die gemeentelede van die NG Kerk en die inwoners van Steynsrus volledig ingelig word oor die ongeruimdhede van die Raad en die gevolge wat dit het vir die Sentrum en die NG Kerk en die dorp in geheel. [Weet die inwoners regtig wat aangaan? Ek glo nie. Hoe sal die inwoners weet as die bestuur en raad nie eers weet nie? Ek glo nie die inwoners is bewus waarvan hulle ontneem word nie]

Om op te som oortree die Raad en laat die Raad by wyse van hulle ongeoorloofde bestuursaanstellings, toe dat die Sentrum verskeie aspekte van die Wet op Oumense oortree. Die Raad veroorsaak dat deur hulle boetie-boetie aanstellings daar bedrog gepleeg kan word. Die Raad weerhou doelbewus kundigheid van die Sentrum en verhoed sodoende die Sentrum se voortbestaan. Daar moet ook besef word dat indien daar sprake is van wanbestuur, die Staat waarskynlik dadelik hulle subsidies en die betaling van Lottogelde aan die Sentrum kan staak. Die Raad moet ook waak teen onbillike arbeidspraktyk. Dit is dalk 'n goeie idee indien die Raad vir 'n slag die Bestuurshandleiding - Diensverhoudinge 2010 van die NG Kerk bestudeer. Maar aan die ander kant indien hierdie Raad verskeie landswette kan ignoreer dan sal dit seker nie vreemd wees indien hierdie Raad ook die NG Kerk se voorskrifte sal ignoreer nie. [Ek stem saam daar word nog steeds nie voldoen aan sekere regulasies van die wetgewing nie. Dit sal seker met tyd aan die lig kom en ek hoop maar dat daar nie skade gelei sal word nie. Oor die res geen kommentaar]

Die Raad het genoeg tyd gehad om die situasie reg te stel en 'n behoorlike en kundige aanstelling te maak in die bestuurderspos. Ek het Volmag van my skoonmoeder, 'n inwoner van die Sentrum Huis Onze Rust, om namens haar op te tree en namens haar enige aksies te neem om te verseker dat haar verblyf in die toekoms verseker is en dat die maandelikse fondse wat vir haar verblyf betaal word nie wanbestuur word nie of dat hierdie fondse blootgestel word aan enige vorm van bedrog nie. Ek sal nie skroom om hierdie Volmag te gebruik om enige wanbestuur en bedrog by hierdie Sentrum tot op die been oop te vlek nie en sal ek nie huiwer om enige bevindinge aan die media te voorsien nie. [Geen kommentaar]

Ek is vir 10 dae in die buiteland en met my terugkeer en indien daar geen daadwerklike poging aangewend is om 'n geskikte bestuurder aan te stel wat die Sentrum op die regte pad sal bring nie, het ek geen ander keuse as om op 14 Desember 2011 die volgende aksies te neem nie:

  1. 'n Volledige en amptelike klagte sal by die Departement Welsyn ingedien word. (Die departement sien ook om na die implementering van die Wet op Oumense). [Dit is seker so]
  2. 'n Klagte sal by die kommersiëletak van die SAPS ingedien word vir 'n moontlike forensiese ondersoek. [Soos ek die SAPD ken is dit nie die moeite werd nie]
  3. 'n Volledige persverklaring sal aan Volksblad en aan ander koerante voorsien word. [Stem nie saam nie, dit sal net meer skade maak]
  4. 'n Volledige verklaring sal aan die SAOPF, die waghond oor die regte van oumense, voorsien word. [Ek het nie geweet daar bestaan so iets nie. Dit blyk dat dit 'n forum is maar ek het geen idee of dit die moeite werd is nie. Sal wel mettertyd ondersoek hieromtrent doen]

Ek is nie besig met 'n heksejag nie. Al wat ek doen is om 'n geringe bydrae te lewer om die Sentrum te help red. Dit is ook geensins my bedoeling om hierdie nuwe bestuurderes van 'n werk te laat ontneem nie, dit is immers sekerlik nie haar skuld dat die Raad en Bestuur onverantwoordelik optree nie. Ek probeer ook net verhoed dat hierdie Sentrum en die NG Kerk in 'n skandaal betrokke raak, want dit is presies wat eventueel sal gebeur. [Wanneer alles goed gaan sien niemand die goeie raak nie maar wanneer iets verkeerd loop dan weet almal dit. Ek stem saam dat as dinge al hoe slegter gaan en niemand doen iets om die situasie te verbeter nie, dan stuur dit op 'n skandaal af]

Die uwe



James Marais

Afskrifte aan:
  1. Die Algemene Sinode Pretoria
Die Kerkraad te Steynsrus