Brief aan Ds Botha (Engo) - 10 Augustus 2015

10 Augustus 2015

Die Hoofdirekteur
Engo
Posbus 12552
Brandhof
Bloemfontein
9324

Geagte Ds W J Botha
                                                                                                 
ONZE RUST SORGSENTRUM VIR BEJAARDES, STEYNSRUS

Ek verwys na u skrywe gedateer 30 Julie 2015 wat ek eers op 6 Augustus 2015 per hand ontvang het.

Groot is my teleurstelling dat u nie eers bereid is om weer na my saak te kyk nie. U was die een persoon in wie ek my vertroue gestel het. U was die een persoon in wie ek geglo het dat u nie onregverdig sal wees of toe laat dat enige mens onregverdig behandel word nie. U is die een persoon in wie ek geglo het dat die waarheid en regverdigheid nie onderhandelbaar is nie, dit is tog wat van alle christenmense verwag word. Duidelik was ek verkeerd en besef ek nou dat u deel is van die onregverdigheid en waarskynlik van die begin af deel was van die onregverdigheid teenoor my en dit is seker die grootste teleurstelling na alles wat gebeur het.

Ek is onskuldig in hierdie saak en ek kan my kop oplig en die mensdom in die oë kyk met die wete dat ek nie skaam hoef te wees oor wat met my gebeur het nie en dat my gewete skoon is en hoef ek nie te vrees om eendag voor God rekenskap te gee nie. U en die personeel van Engo en Onze Rust daarenteen behoort vandag julle hoofde in skaamte te laat sak.

U versoek my om die strydbyl te begrawe en die saak tot ruste te laat kom. Hoekom? Is dit dalk om almal se gewete te sus, net soos die ccma skikking die onreg moet regverdig en almal se gewete moet sus? Is almal dan bang vir die waarheid? Maar wat van Engo en Onze Rust, hoekom is daar geen poging van julle kant om die strydbyl te begrawe nie? Hoekom is drie van ons nog steeds Onze Rust verbied? Hoekom moet al daardie oumense boet en te na gekom word deur ‘n vriendskap van hulle weg te neem? Besef julle nie hoe groot behoefte het hierdie oumense aan ‘n besoek en geselskap nie? Hoe gaan almal eendag al hierdie onregverdighede voor God verduidelik?

Al hierdie onregte teenoor my en die oumense is ‘n skande!

Vriendelike groete



Wanda du Plessis
http://mishandeling-bejaardes.blogspot.com/