Sinode Vrystaat - 21 Januarie 2014

21 Januarie 2014

Die Voorsitter
Die Sinode van die NG Kerk Vrystaat
Bloemfontein

Geagte Ds Lubbe
                                                                                                 
KLAGTE : NG KERK STEYNSRUS

Hierby ingesluit skrywes van my gedateer 26 September 2013 en 10 Desember 2013 wat selfverduidelikend is.

My oorspronklike skrywe van 26 September is op aanbeveling van die Skriba, persoonlik aan die ouderling John Craven oorhandig. Na beloftes dat die saak aandag sal geniet en nadat etlike weke verbygegaan het en niks gebeur het nie, is dieselfde skrywe op 14 Oktober 2013 per epos na die kerkkantoor gestuur. Die kerkkantoor het ontvangs erken. Nadat nog niks gebeur het nie, het ek op 26 November 2013 per epos navraag gedoen. Weer net ‘n ontvangserkenning.

Mev van Rensburg wat Barmhartigheid hanteer het en waaroor al die moeilikheid gaan, het intussen die diens verlaat en is vervang met mev Hurter. Vroeg in Desember het ook mev Hurter in die openbaar en in die teenwoordigheid van ‘n lidmaat mnr Frik Wessels, weereens my dogter oor die welwillendheidspakkie verneder. Dit was die laaste strooi en het ek my brief van 10 Desember na die die kerkkantoor gestuur met die doel om my lidmaatskap te kanselleer en met die hoop dat die vernederings dan sal stop. Maar dit het nie gestop nie. Op 30 Desember besoek mev Hurter my by die huis en kon nie genoeg invryf dat ek nie meer ‘n welwillendheidspakkie kry nie en het baie vermakerig vertel hoe goed die Desember pakkie was en wat ek alles gemis het. Is sulke optrede werklik nodig? Ek hou my eenkant maar word vir maande lank verneder. Hoekom? Is daar nie meer enige Christelike norme in hierdie kerk nie?

Nadat die kerkkantoor my skrywe van 10 Desember ontvang het, het vermoedelik die onder-ouderling, my geskakel. Daar is beloftes gemaak van verskeie samesprekings wat gevoer sal word. Tot op hede is daar nog geen teken dat die samesprekings sal plaasvind nie. Dit kom voor of daar werklik niemand in hierdie kerk is wat die ondervinding het of dalk nie die vermoë het om ‘n saak te hanteer nie. ‘n Plofbare situasie word dus nie ontlont nie. Daar word natuurlik gehoop dat as niemand iets aan die saak doen nie, die probleem homself sal oplos. ‘n Siek situasie!

Ds Lubbe u sal verstaan dat om ‘n welwillendheidspakkie te ontvang is ‘n baie sensitiewe saak en om dan nog op ‘n barbaarse wyse daaroor verneder te word druis in teen enige vorm van menswees. Inwoners van die dorp wat nou al so lank as 10 jaar hier woon was nog nooit enigsins genader om net ‘n erediens van die NG Kerk by te woon nie. Baie inwoners wat NG lidmate is woon as ‘n reël eredienste by in naburige dorpe. Groot fout by hierdie NG Kerk.

Dit is vir my bitter om na 43 jaar in die NG Kerk op so wyse uit die kerk verdryf te word. Word die NG Kerk deesdae net vir uitgesoekte lidmate gereserveer? Hoekom kan ek die optredes van die NG Kerk nie vereenselwig met dit wat ek al die jare uit die Bybel geleer het nie? Dit is ‘n Christelike skande!

Die uwe


Wanda du Plessis