So iets oor Steynsrus – 18 September 2015


Steynsrus is ‘n baie goeie voorbeeld van die afrikaanse idioom: “aan die gatkant van die wêreld”

Na 10 jaar in hierdie dorp het ek verskeie waarnemings gemaak en het ek aanskou hoe Steynsrus dag vir dag agteruit gaan. ‘n Volledige beskrywing met die geskiedenis van die dorp en sy stelselmatige verval met fotos sal eersdaags op internet beskikbaar wees. Die internetadres sal hier aangetoon word.

Hier is ‘n paar voorbeelde van hoe die dorp agteruitgegaan het:

1. Hier is geen bank meer nie. Die laaste bank was ENB wat so paar jaar gelede gesluit het. Daar is darem nog ‘n OTM maar wat baie kere buite werking is.

2. Die grootste winkel, Steynsrus Supermark, het die laaste klompie jare verskeie kere van eienaar verwissel en in die proses het die winkel al hoe meer agteruit gegaan en is vir die laaste jaar of twee al gesluit.

3. Daar is ‘n nuwe winkel, JS Food Market, geopen. Hier kan darem van die meer noodsaaklike huishoudelike produkte gekoop word. Van die ander oorblywende winkeltjies word stelselmatig deur Pakistaners oorgeneem wat die dorp nog verder laat agteruit gaan.

4. Met die uitsondering van die rolbalbaan wat deur ‘n handjievol mense benut word, is daar geen ander sportgeriewe nie. Die munisipale swembad is al jare gelede gesluit en word tans gebruik om varke in aan te hou. Hierdie is seker die enigste dorp wat nie die een of ander soort museum het nie, hier is seker nie veel van geskiedenis nie.

5. Hier is geen parke of wandellane of enige ander vorm van ontspanning nie. Daar is ook nie enige restaurante in die dorp nie. Daar is wel ‘n wegneemete plek, maar is redelik beperk wat verskeidenheid aanbetref. Verstaanbaar is daar natuurlik ook nie enige bekende afdelingswinkel of apteek op die dorp nie en om net ‘n eenvoudige item te bekom kan ‘n nagmerrie wees. Dit beteken dat mense na ander dorpe moet ry om iets te koop en selfs dan is ‘n naburige dorp soos Kroonstad nie die moeite werd nie.

6. Die enigste meubelwinkel het ook gesluit. Hier is darem ‘n kooperasie maar soos verwag kan word, word daar meer op grootmaat aan die boere voorsien. Daar is ‘n NG Kerk op die dorp maar laat veel te wense oor. Baie lidmate van die NG Kerk ry Sondae na naburige dorpe om dienste daar by te woon. As daar na al die beweerde voorvalle gekyk word, dan kan mens ook net wonder oor die plaaslike ouetehuis.

7. Die mense wat hier groot geword het, het duidelik oor die jare gestagneer. Dit is verstaanbaar want daar was nooit enige ontwikkeling of verwikkelinge in die dorp vir baie jare nie en die situasie word nie beter nie, nee dit versleg by die dag. Een van die groot frustrasies vir die mense wat van groot stede af kom is hulle ondervind ‘n gebrek aan algemene kennis aan die kant van die inwoners van die dorp wat ‘n intelligente gesprek baie beperk.

8. Behuising is sekerlik goedkoper as in baie ander dele van die land. Maar daar is ‘n prys wat daarvoor betaal word. Eestens lok goedkoop behuising ongewenste elemente wat die dorp nog verder laat agteruit gaan. Die lewenskoste is egter nie laer as in ander dele van die land nie en in baie gevalle is dit eerder duurder. Hier is dit sekerlik ‘n geval van goedkoop koop is duur koop.

9. ‘n Groot voordeel van die dorp is dat dit baie stil is. Daar is min verkeer en parkering is geensins ‘n probleem nie. Die nadeel is daar is net twee teerstrate en die res is grondpaaie wat die dorp uiteraard baie stowwerig maak. Die grondstrate is ook baie ongelyk met baie losklippe en daar het by ‘n paar geleenthede, veral oumense, gestruikel op die ongelykhede en baie sleg geval.

Slot

Sal ek Steynsrus aanbeveel as byvoorbeeld ‘n dorp om in af te tree? Nee definitief nie, veral nie vir die mense wat uit groot stede kom nie. Hier sal die stedelinge net gefrustreerd en verveeld voel. Elektrisiteit is soms ‘n nagmerrie. As dit reën gaan die krag af, as die wind waai gaan die krag af en as daar niks verkeerd is met die krag nie, dan word daar onderhoudswerke gedoen wat die dorp vir ‘n hele Sondag sonder krag laat. Water is net so groot kopseer, pompe raak gereeld buitewerking en laat die dorp soms vir dae sonder water.

My aanbeveling: Hou eerder verby, hier is niks wat die moeite werd is nie. Daar is baie ander klein dorpies wat soveel meer bied as Steynsrus.