Kerkraad Steynsrus - Gevolge - 5 Februarie 2013

5 Februarie 2013

GEVOLGE VAN BEWERINGE EN BESKULDIGINGS OOR BRIEWE

  1. Daar is waarskynlik by al die inwoners van HOR navraag gedoen oor wie (indirek) betrokke was by die skryf van die betrokke briewe. Dit is verstaanbaar en ek glo die bedoelinge sou goed wees. Maar dat een spesifieke inwoner direk beskuldig was en deur raadslede gedreig was dat sy uit HOR weggejaag sal word indien sy skuldig is, is geensins aanvaarbaar nie. Verder is sy gedreig dat sy haar onskuld moet bewys of sy is uit. Hoe die duiwel moes sy dit doen? Ek kan getuig dat hierdie inwoner baie ontsteld was en moontlik baie na aan 'n senu-ineenstorting was oor die gebeure. Sies dit is 'n skande dat dit aan enige ou mens gedoen is! Dit was 'n growwe skending van haar menswaardigheid en daar behoort summier 'n klagte by die SAPD en die Welsyn ingedien te word oor die aangeleentheid. Verder was dit nie 'n baie Christelike optrede nie.

  1. Ek weet nie hoeveel ander mense ook beskuldig was nie, maar toe uiteindelik word ek beskuldig om die redes reeds genoem in my skrywes van 30 Januarie 2012 aan HOR en 25 September 2012 aan die Kerkraad. My naam word toe summier swartgesmeer in die openbaar en word na my verwys as 'n "vark" aan lede van die publiek, (ja daar is 'n getuie). Dit is naamskending. Ek sou verwag dat die verantwoordelike persone eers sou seker maak van hulle feite voordat sulke uitlatings gemaak word. Verder is my vriendskap wat ek met van die inwoners van HOR gehad het vertroebel. Oor die beskuldigings het ek onwelkom gevoel om die inwoners te besoek en van die inwoners was ook duidelik versigtig om met my te praat want hulle was natuurlik bang dat hulle die volgende gaan wees om ook beskuldig te word. Weereens nie 'n Christelike optrede en situasie nie.

  1. Mev du Plessis wat werksaam is by HOR en wat 'n gedeelte van my huis huur en verder geen verbintenis met my het nie, was vir maande lank deur die bestuurder en van die raadslede getreiter net omrede ek verdink was van die briewe. Sy was geignoreer in haar werk en sy was heeltyd blootgestel aan skimpe en was sy gereeld verneder met opmerkings. Sy was selfs saam met 'n ander personeellid Kroonstad toe gestuur met die uitsluitlike doel om vas te stel of sy weet of ek die briewe geskryf het. Dit het later aan die lig gekom dat 'n raadslid opdrag gegee het vir die Kroonstad eskapade. Nadat die afdakke van HOR opgerig was, het die bestuurder voor al die personeel mev du Plessis verneder deur te sĂȘ dat sy hom nie hoef te bedank vir die afdakke nie want sy het tog nie 'n motor nie. Was so opmerking werklik nodig? of was dit maar 'n voortsetting van die tendens van die sogenaamde Christelikes om te impliseer dat sekere mense "armlastigdes" is soos dit ook in die Wilma van Huyssteen geval ook na vore gekom het? Toe die bestuurder die diens van HOR verlaat het, het hy aan elke personeellid 'n afskeidsgeskenkie gegee behalwe aan mev du Plessis. Hoe moes sy daaroor voel? en dit nadat sy reeds vir maande lank verneder was. Hoekom moes mev du Plessis die spit afbyt terwyl die bestuur en raadsledes te lafhartig en agterbaks was om direk met my in gesprek te tree? Of het die betrokke persone teruggedeins dat daar dalk ongemaklike vrae aan hulle gestel sou word indien hulle wel met my in gesprek sou tree? Was hulle bang dat waarhede dalk aan die lig sou kom? Indien 'n reguit pad gestap was het niemand rede gehad om bekommerd te wees om met my te praat nie. Nou is daar goeie rede om hierdie "reguit pad" te bevraagteken.

  1. Hoekom moes al die tyd en energie vermors word om vas te stel wie nou eintlik die briewe geskryf het? Was dit nodig om soveel mense te na te kom net om dit vas te stel? Was hierdie sinnelose optredes van sekere mense nie maar 'n klinkklare bewys dat alles maar net om hulle eie self gesentreerde ego gegaan het en hulle optredes geensins in belang van HOR of die NG Kerk gegaan het nie. Sou dit nie eerder raadsaam gewees het om te besin oor die moontlikheid dat van die beskuldigings in die briewe dalk die waarheid is en dan al die vermorste tyd en energie eerder te gespandeer het om hierdie tekortkominge reg te stel nie? Moes hierdie briewe nie dalk eerder gesien geword het as soort van 'n "wake-up call" nie. Soos die gesegde lui: waar daar 'n rokie is is daar 'n vuurtjie.

Owen de Scally