Kerkraad Steynsrus - 25 September 2012

25 September 2012

Die Voorsitter
NG Kerkraad
Posbus 32
Steynsrus
9515
                                                                                                 
BEWERINGE EN BESKULDIGINGS OOR BRIEWE

Soos u en die res van die dorp reeds deeglik daarvan bewus is, word ek links en regs beskuldig vir die skryf van sekere briewe. Ek het navraag gedoen en gevind dat die briewe alles gaan oor Huis Onze Rust (HOR) asook die rede waarom ek summier beskuldig word. Ek het op 30 Januarie 2012 'n skrywe aan die bestuur en raad van HOR gerig en my saak gestel en het ek ook 'n skrywe terug ontvang. Wat my aanbetref was die saak op 'n ordentlike en beskaafde wyse afgehandel. Ek heg 'n afskrif van my brief aan HOR hierby aan.

Nadat hierdie saak afgehandel was word ek weereens beskuldig en nou sommer ook vir ander mense se briewe en word ek nog steeds swart gesmeer in die publiek. Hierdie aksies van sekere raadslede is ongevraagd en onsmaaklik en hierdie skrywe nou aan die raad en enige verdere skrywes en aksies wat ek nou en in die toekoms mag neem, kan net voor die deur van hierdie raadslede gelê word.

Nadat die eerste saak afgehandel was skryf Wilma van Huyssteen 'n brief aan die Kerkraad waarvan die inhoud nie alles aan my bekend is nie. Soos ek verstaan was daar 'n vergadering oor hierdie brief tussen Wilma, Ds Ignatius Rademeyer, mnr Nic Grobler en mev Toelie Prinsloo. Tydens hierdie vergadering word ek summier beskuldig dat ek Wilma se brief geskryf het. Nadat Wilma die persone teenwoordig meegedeel het dat sy my gaan inlig dat ek beskuldig word, word daar blitsvinnig 'n huisbesoek by ons gedoen deur mev Prinsloo. Duidelik was hierdie besoek om vas te stel of ek bewus was van die beskuldigings en wat ek daaromtrent gaan doen. Normaalweg sou ek my nie aan sulke bog steur nie want ek is nie 'n kleinlike mens nie. Wat my wel gepla het is die wyse waarop mev Prinsloo wou verhoed dat ek verder gaan met die aangeleentheid, en het sy na Wilma verwys as 'n armlastigde wat niks vir haar self kan doen nie en dat ons ons tog nie moet steur aan wat sy sê nie. Wat my verder pla is dat hierdie beskuldigings in die publiek verkondig is en het ek bewyse daarvan. Wat Wilma aanbetref voel sy in die gesig gevat omrede daar by implikasie beweer word dat sy nie instaat is om 'n brief te skryf nie. Ek het nooit Wilma ingelig oor wat mev Prinsloo oor haar gesê het nie, maar Wilma sal waarskynlik nou daarvan te hore kom met hierdie skrywe van my.

Wat het dit in elk geval met enige iemand te doen indien ek wel vir 'n ander persoon help om 'n brief te skryf. Dit beteken maar net dat daardie persoon slim genoeg is om van my kundigheid gebruik te maak, dit is meer as wat ek van HOR kan sê!
Verder kan ek net wonder hoeveel ander mense is ook beskuldig en van hoeveel ander briewe word ek ook beskuldig waarvan ek nog net nie bewus is nie?

Op 'n dag word ek in die straat voor die poskantoor verbaal aangeval deur 'n lid van die publiek wat 'n inwoner van HOR is en wat ook huisvriende is met van die raadsledes. Ek word summier beskuldig van al die briewe en sy stel dit duidelik dat ek ook Wilma se brief geskryf het. Sy het selfs so vêr gegaan om te sê dat daardie vrou (Wilma) elke dag by ons lê en dat ek die brief geskryf het en Wilma dit net oorgeskryf het in haar handskrif. Ek kan hierdie persoon nie verkwalik vir haar uitbarsting nie want sy was duidelik in 'n ontstelde toestand. Wat ek wel meegedeel is dat sy ook beskuldig was deur raadslede vir die briewe aan HOR. Vir haar is gesê dat indien sy nie haar onskuld kan bewys nie sal sy uit HOR gejaag word. Ek wonder of hierdie raadslede ooit besef wat die implikasies van hulle optrede kon gewees het? Hierdie insident kon maklik strafregtelik ondersoek gewees het!

Het iemand al daaraan gedink dat die briewe dalk deur 'n raadslid self geskryf is? Iemand wat nie met die ander raadslede se besluite saamstem nie? Iemand wat dalk besef besluite word nie altyd in belang van HOR geneem nie? Of was dit dalk 'n vorige werknemer? Die rede waarom ek beskuldig word is natuurlik omrede ek my hulp by HOR aangebied het. Ek wil dit duidelik stel dat ek eerstens nie 'n idioot is om my hulp aan te bied as ek nie oor die nodige kennis en ondervinding beskik en ek nie bekaam is om te kan help nie. Tweedens is ek nie 'n idioot om vir 'n pos aansoek te doen wat nie vakant is nie. Derdens as ek 'n anonieme brief wou skryf sou ek nie 'n idioot wees om enige naam onder aan die brief te sit nie, ek sou eenvoudig die naam uitgelos het. So moet my asseblief nie uitmaak as 'n idioot nie!

Dit het nie veel van 'n IK geverg om te besef dat HOR die afgelope klomp maande in 'n baie benarde administratiewe en finansiële posisie was en moontlik nog steeds is nie. Hierdie feit is algemeen bekend in die dorp. Dit is die rede hoekom ek my hulp uit welwillendheid aangebied het. Die raad of iemand kon ten minste met my gekontak het om vas te stel wat ek vir HOR kon bied, my hulp was darem gratis en HOR kon munt slaan uit my jare se ondervinding as bestuurder en my deeltydse betrokkenheid by instansies soortgelyk aan HOR. Indien die raad of bestuur van HOR nie enige hulp nodig gehad het nie, vra ek om verskoning dat ek voorbarig was om my hulp aan te bied, maar ten minste kon die raad die ordentlikheid gehad het om dit vir my te sê. Of is daar iets in die kantoor van HOR wat 'n buitestaander nie mag sien nie? Of was daar persone wat so hard besig was om die bestuurderes uit te werk dat my hulp 'n bedreiging was vir hulle doel? Vir wie moes die bestuurderes plek maak? Vir vriende of dalk familie? 'n Onlangse aanstelling laat my ook wonder want ek weet wat ek gesien het. Is daar nou uit familie uitgehardloop? Is daar dalk spore wat doodgeveë moet word? Of moet dit verbloem word dat raadslede en bestuur nie kundig genoeg is om HOR te bestuur en tot nuwe hoogtes te voer nie?
Sal daar eerder toegesien word dat HOR ten gronde gaan voordat 'n "buitelander" soos onder andere ek die geleentheid gegun word om te help? Ons "buitelanders" het dalk baie meer kennis en ondervinding as wat daar gedink word.

Wat die aanstelling van 'n bestuurder by HOR betref kan ek ook net wonder wat werklik gebeur het. Hoe kan daar besluit word om te adverteer vir die pos en twee weke later is die pos sogenaamd gevries om finansiele redes. Wat het in net twee weke gebeur om die besluit te verander? Was dit dalk toe ek my CV ingedien het? Was die beswaddering van my naam dalk doelbewus sodat ek nie die vrymoedigheid moes hê om aansoek te doen nie? Of was die besluit om te adverteer doodeenvoudig net 'n swak besluit? Nietemin moes die advertensies sekerlik in die orde van R7500 per week beloop het. Nogal 'n aardige bedraggie vir 'n instansie wat noustrop trek. Indien die bestuurderspos intussen gevul word kan dit aanvaar word dat HOR se finansiele posisie sodanig verbeter het wat die aanstelling regverdig. Indien daar egter 'n aanstelling gedoen word sonder dat daar 'n noemenswaardige verandering in HOR se posisie is en sonder om ander kundige kandidate in ag te neem, sal dit 'n onomstootlike bewys wees dat die aanstelling van 'n bestuurder net gegrond is op agterafheid en eie gewin en dat die hele agtergrond van die pos wat kamstig gevries was net 'n front en 'n bluf was. Sal dit regverdig wees teenoor die ander personeel en inwoners en HOR in geheel om blatant kundigheid en ervaring weg te hou en die gevaar loop om HOR te laat skipbreuk ly? Terloops ek het uit 'n betroubare bron verneem dat alhoewel ek 'n baie geskikte kandidaat as bestuurder is, ek nie oorweeg sal word omdat ek verdink word van die briewe. Dit is absoluut kleinlik en onverantwoordelik.

Na al die swartsmeer van my naam oor die beskuldigings, het ek ds Rademeyer genader om te help dat die raadslede wat my so beswadder, hulle my naam ten minste moet herstel. Groot was my skok om uit te vind dat die predikant net so hard saam met die raad beskuldig. Ek het darem verwag dat 'n predikant redelik neutraal moet wees en om eerder 'n situasie te probeer ontlont. Maar dinge het seker maar oral verander, selfs in die kerk. Was dit ook nodig om 'n inwoner van HOR te misbruik om my dop te hou? Ek weet presies welke raadslede daarvoor verantwoordelik was. Goeie genugtig wat wou daardeur bereik word? Maar dit was nogal amusant om hierdie inwoner soms agter 'n boom te sien inspring en dan vir my te loer wat ek maak wanneer ek naby HOR verby ry.

Die feit dat daar geen voltydse bestuurder by HOR is nie en daar niemand is wat waarskynlik omgee wat van HOR word nie en daar niemand met werklike kundigheid is om HOR in 'n meer sekure posisie te plaas nie, is besig om duidelik sigbaar te word. Onlangs byvoorbeeld is afskeep bouwerk by HOR gedoen en is die kontrakteur waarskynlik reeds daarvoor betaal. Hoe van die inwoners behandel word is deur inwoners self oorgedra aan lede van die publiek en gaan ek my nie nou daaroor uitlaat nie, maar wel later op my webtuiste. Daar is 'n klimaat van onsekerheid oor HOR onder die inwoners en hulle gee dit te kenne aan lede van die publiek. Is dit hoe hierdie inwoners hulle goue jare moet afsluit? Die inwoners verdien meer as wat tans in HOR ervaar word.

My waarneming is dat HOR reeds die laaste paar jaar in trurat beweeg en indien hierdie beweging momentum gaan opbou gaan niks of niemand die ondergang keer nie. Op hierdie stadium kan die skade dalk nog herstel word maar dit sal deur iemand moet wees wat meer as net 'n gewone bestuurder is wat die dag tot dag take verrig. Dit sal iemand moet wees met ervaring en kundigheid, iemand wat ten minste darem inisiatief aan die dag kan lê, iemand wat vars idees na HOR kan bring. Vir die hoeveelheid geld wat die inwoners betaal, verdien hulle niks minder as dit nie. Dit moet ook nie uit die oog verloor word dat inwoners hulle vertroue in die NG Kerk geplaas het toe hulle inwoners van HOR geword het nie. Tans weet ek nie of die NG Kerk daardie vertroue verdien nie.

Ek wil dit baie duidelik op rekord stel dat ek hoegenaamd geen verbintenis het met enige raadslede, inwoners of personeel nie. Ek ontvang wel besoek deur personeel en vorige personeellede asook inwoners van HOR. Dit is alombekend dat inwoners van ouetehuise dit vermy om by die bestuur of personeel te kla oor wat hulle pla. Inwoners sal veel eerder hulle bekommernisse en griewe uitspreuk teenoor vriende en familie, want hulle is bang dat daar onregmatig teenoor hulle opgetree sal word, dit is ook onlangs so in 'n koerantberig bevestig.

Hierdie brief is reeds op internet op die onderstaande webtuiste gepubliseer. Alle toekomstige briewe en insidente en moontlik ook die vorige briewe sal mettertyd ook op dieselfde webtuiste gepubliseer word. Die rede hiervoor is ons lewe in 'n moderne elektroniese tydperk en dit is net soveel makliker om al die dokumente bymekaar te hou en ook om dit sonder enige probleme na 'n ander persoon te verwys indien dit nodig sou wees. Die naam van die webtuiste mag dalk nou baie kras klink, maar dit is waarskynlik waarheen alles op pad is indien niemand met die nodige insig iets aan die situasie gaan doen nie.

//ngkerk-skandale.blogspot.com

Tans kan HOR beskou word as 'n klein bootjie op die groot oseaan sonder 'n stuurman, almal kan seker voorspel wat die eindresultaat sal wees! Om te lank te wag voordat daar daadwerklik iets gedoen word, kan katestrofies wees vir HOR. Soos 'n baie bekende filosoof eens gesê het: "Indien iets eers verlore is het dit 'n tendens om verlore te bly". Is dit wat die inwoners en personeel verdien en is dit wat hierdie dorp verdien of kan bekostig? Is dit nie tyd dat ons mense hier ons minder ophou met sinnelose geskinder en beskuldigings nie en is dit nie tyd dat almal van hulle selfgemaakte troontjies afklim nie? Is dit nie dalk die rede waarom hierdie dorp en HOR in 'n gemors is nie?


Vriendelike groete


Owen de Scally