Koerantberig 12 Maart 2015



My ondervinding is dat daar GEEN kommunikasie in die NG Kerk is nie. Dit is net nie duidelik of die rede is omdat die NGK onbekaam of net plein onbeskof is nie.

Hierdie onbeskofdheid is nie toevallig nie en word ook duidelik ervaar in die subprogram NG Welsynsdienste.

Artikel soos verskyn op News24

‘NGK moet leer om te kommunikeer’
Te veel teenstrydighede, sê Jean Oosthuizen
Deur Malani Venter Donderdag 12 Maart 2015 05:00


Die NG Kerk moet leer om te kommunikeer. Hy slaag tans nie daarin om met sy lidmate te kommunikeer nie.

“En ’n mens kan dit sien as jy net kyk na die Belhar-nagmerrie wat tans aan die gang is. Die kerk se kommunikasie werk nie,” het Jean Oosthuizen, voormalige nuusredakteur van die Kerkbode, op die sesde dag van die Universiteit Stellenbosch se Woordfees gesê.

Die onderwerp was “Wie is die NG Kerk? Oor bastions en onsekerheid.”

Oosthuizen was twee jaar gelede betrokke by die debakel toe die Kerkbode hom as borg van gesprekke oor godsdiens aan die Woordfees onttrek het. Die paaie van die Tydskriftemaatskappy, uitgewer van die Kerkbode, en dié van Oosthuizen, toe nog nuusredakteur, het daarna geskei.

Oor kommunikasie in die NG Kerk het Oosthuizen vervolg: “Daar is te veel teenstrydighede en daar word te veel met woorde gespeel. Vir die kerk om te slaag om sy boodskap oor te dra, is beter kommunikasie nodig.”

’n Medespreker by die gesprek, prof. Nelus Niemandt, voorsitter van die NG Kerk se algemene sinode, het oor die Belhar-belydenis gesê: “Die een verrassende ding wat na vore staan, is hoe baie NG-lidmate passievol hieroor is.

“Dit het my verwagtinge oortref... die intensiteit van die debat en die passie daaroor... daar is in die NG Kerk ’n soort energie oor hierdie saak wat baie intenser en meer is as wat ek verwag het.”

Hierop het Oosthuizen gesê: “Ek sien nie daardie passie oor Belhar nie. Ek dink mense is al moeg om daaroor te praat omdat hulle nie meer weet wat die kerk eintlik sê nie... Is dit opsioneel, of is dit nie opsioneel nie? Dit is die goed wat mense deurmekaar maak.”