Koerantberig - 9 September 2015



NG Kerk-sinode: ‘Meer lidmate bo 60 jaar as onder 16 jaar’

Deur Claudi Mailovich Woensdag 09 September 2015 20:55

“ Daar is ’n klomp mense van die NG Kerk wat geëmigreer het. ”

In die NG Kerk is daar meer lidmate wat bo 60 jaar is, as wat onder 16 jaar is.
So sê prof. Kobus Schoeman, wat verbonde is aan die departement praktiese teologie by die Universiteit van die Vrystaat.

Schoeman het waarneembare tendense binne die NG Kerk, soos gepubliseer in die agenda vir vanjaar se algemene sinode in Oktober in Pretoria, verduidelik.

Daar word in die agenda onder meer genoem dat al hoe meer gemeentes met ’n tekort afsluit, dat gemeentes huiwerig is om leraars heeltyds aan te stel, dat die gemiddelde ouderdom van lidmate styg en dat dorpsgemeentes steeds verklein en dat kleiner gemeentes met groter gemeentes saamsmelt.

Volgens Schoeman is daar binne die NG Kerk ’n dalende tendens soos in enige hoofstroomkerk gesien kan word.

Hy meen daar is ’n paar moontlike redes vir die dalende lidmaatskapsyfers.

Die een is ’n dalende geboortekoerssyfer en die ander is emigrasie. 

“Ons weet nie hoeveel dit is nie, maar daar is ’n klomp mense van die NG Kerk wat geëmigreer het.”

Hy meen ook die veroudering van die kerk speel ’n rol.

“Toe ons begin het met die opnames in 1981, was twee derdes van die lidmate belydende lidmate en een derde was dooplidmate.

“Vandag is 75% belydende lidmate en tussen 20% en 25% is dooplidmate.

“Daar’s meer lidmate bo 60 jaar in die NG Kerk as lidmate wat jonger as 16 jaar is,” het hy gesê.

Sedert die 2006-2007-tydperk tot by die 2013-2014-tydperk het die lidmaatskapsyfer van 1,13 miljoen gesak tot 964 293 lidmate. Dit is 167 861 lidmate minder oor amper tien jaar.

Hy meen die gemeentes wat toemaak – 32 sedert die 2006-2007-tydperk – het probleme met finansies beleef en dat daar bloot net nie genoeg geld was om ’n leraar permanent aan te stel nie.

“Jy kan die situasie na twee kante toe sien – die negatiewe kant is dat dit net agteruit gaan. Die ander kant is dat daar geleentheid vir verandering is.”

Hy meen daar moet gevra word hoe die bediening lyk en hoe dit binne ’n moderne konteks werk.

Hy meen dit kan lei tot ’n nuwe bedieningspatroon.

“Ons is eintlik op ’n goeie, uitdagende plek.

“Jy kan net in die syfers vaskyk – dis die een werklikheid. Maar die ander kant is die vasberadenheid van jonger en ouer lidmate om ’n verskil te kan maak.”

My kommentaar:

Dit is sekerlik nie net NG lede wat emigreer nie! Indien die AGS se syfers geglo kan word, het hulle ledetal oor die laaste paar jaar vanaf 1.2 tot 1.4 miljoen gegroei. Dit wil eerder vir my voorkom of die emigrasie van NG lede na ander kerke plaasgevind het.

Maar wat kan verwag word moet gebeur as die NG Kerke hulle lede soos honde behandel en dan te lafhartig is om die sake reg te stel en dit geld tot by die Algemene Sinode.