Kerkraad Steynsrus - 10 Desember 2013

10 Desember 2013


Die Voorsitter
NG Kerkraad
Steynsrus

                                                                                                
WELWILLENDHEIDSPAKKIE

Ek verwys na my skrywe gedateer 26 September 2013 en daaropvolgende epos gedateer 26 November 2013. Van beide skrywes is daar ontvangs erken met die boodskap dat die saak verwys is en aandag geniet. Daar is nou reeds ‘n tydsverloop van meer as twee maande en aanvaar ek dat die NG Kerkraad of enige iemand van die NG Kerk nie belangstel om aandag aan die saak te gee nie en daar nog minder ‘n belangstelling is om die saak reg te stel. Verder kan aanvaar word dat die vernederings wat ek en my dogter moes verduur, deur die NG Kerk goedgekeur word en waarskynlik as ‘n norm daar gestel word.

Op 23 Oktober 2013, vermoedelik die dag waarop die welwillendheidspakkies uitgedeel was, bring van Rensburg ‘n besoek aan my huis. My dogter Petro was na buite om te sien wie die besoeker is. Van Rensburg het ‘n pakkie uit haar motor geneem met ‘n paar items wat duidelik die oorskiet was van items wat vroëer die dag uitgedeel was en het die pakkie voor Petro op die grond neer gesmyt en vir Petro toegesnou dat “as jou ma iets te sê het oor my moet sy dit in my gesig sê”. Hoekom het van Rensburg die pakkie gebring as sy so houding het? Was die hele doel van die pakkie om ons vir oulaas weer te verneder? Wat ‘n onmenslike skande en ‘n skande voor God!! Die ergste is dat hierdie skande ook oor die NG Kerk is.

Hierdie vernederings wat veral my dogter moes verduur, word tienmaal vererger deurdat die Kerk geen poging aanwend om die situasie te beredder nie en waarskynlik tevrede is met die verloop van sake. Baie teleurstellend!

In die lig van hierdie gebeure wens ek my lidmaatskap met hierdie NG Kerk te kanselleer en sal ek my lidmaatskapdokumente op Donderdag 12 Desember 2013 by die kerkkantoor afhaal. Ek versoek ook dat my naam van die databasis verwyder word. Die Vrystaat Sinode sal dienooreenkomstig ingelig word.

Die uwe




Wanda du Plessis


NS. Wilma van Huyssteen versoek dat ek haar lidmaatskapdokumente moet verkry en dat haar naam ook van die databasis verwyder word.